Nadat ons die eerste tree van gehoorsaamheid geneem het en ons onsself tot God bekeer het omdat die Heilige Gees ons oortuig het van sonde, geregtigheid en oordeel, is die saad van geloof in ons harte gesaai. Die bewustheid van ons verlore toestand en die feit dat ons nou verstaan dat "almal gesondig het en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God" (Rom. 3:23), het ons genoop om ons sondetoestand voor God te bely en te erken dat alle mense 'n persoonlike Verlosser nodig het.
Bekering was die eerste tree in ons geloofslewe saam met Jesus en het aan ons toegang verleen tot God. Nou lê daar 'n opwindende lewe van geloof voor waar ons God se liefde en begeleiding sal ervaar. Dit bring ons by Pilaar Twee op ons geestelike reis saam met Jesus Christus, naamlik GELOOF! Alhoewel bekering die eerste Pilaar is wat hier genoem word en inderdaad die eerste aksie is wat ons moet neem op ons WEG tot GEREGTIGHEID, moet ons verstaan dat daar 'n baie noue verband tussen GELOOF en BEKERING is.
Bekering is die eerste stap wat ons moet neem nadat ons van Jesus se versoeningswerk gehoor het en dit persoonlik deur geloof aangeneem het. Uit Heb. 11:6 is dit baie duidelik dat sonder geloof dit onmoontlik is om God te behaag. Die Bybel leer ons dat Abraham die vader
van geloof is, omdat hy onvoorwaardelik God se woord en belofte vir sy lewe aangeneem het en geglo het in die VERLOSSER wat uit sy nageslag gebore sou word. In Rom. 4:3-5 bevestig Paulus hierdie beginsel van geloof tot persoonlike redding: "Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken."
Lank voordat Abraham deur God beveel was om hom te laat besny, het sy geloof in die Woord wat God tot hom gespreek het hom regverdig voor God verklaar. Die oomblik wanneer 'n persoon die goeie nuus tot redding, verlossing en heelmaking hoor en sodanige person sy/haar lewe deur bekering aan God oorgee, word sodanige persoon geposisioneer tot die oorvloedige lewe wat Jesus vir ons kom gee het. Hiérdie lewe is nie gebasseer op redding deur verdienste nie, maar op 'n lewe van toewyding en gehoorsaamheid aan God omdat ons gered is deur Sy genade. Geen mens het die lyding waardeur Jesus op Golgota moes gaan verdien nie, dit was 'n genadegawe van God vir elkeen wat glo.
In Rom. 10:13-17 leer ons hoe belangrik God se Woord is t.o.v. ons geloof: "Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En
hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê: Here, wie het ons prediking geglo? Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God."
Blootstelling aan God se Woord en die persoonlike aanneming daarvan, vorm die basis van ons geloofslewe. In Matt. 7:24 sê Jesus die volgende: "Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met 'n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het." Hier vind ons 'n tweeledige voorskrif van Jesus wat ons moet toepas in ons bouprojek op die ROTS (Jesus). Jesus sê: Dié mens wat na Sy woorde LUISTER en dit DOEN is soos 'n man wat sy huis op 'n onwankelbare fondasie bou. Hy noem so 'n persoon 'n "verstandige mens". As ons Christus in ons lewe as fondasie ontvang het, moet ons nou ons geestelike huis begin bou deur na Sy woord te LUISTER en dit te DOEN.
Hierdie beginsel word in Hand. 20:32 bevestig: "En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle 'n erfdeel te gee onder al die geheiligdes." Paulus sê hier aan die broeders van die gemeente in Éfese dat dit GOD se WOORD is wat ons as gelowiges sal OPBOU en aan ons 'n ewige erfdeel sal gee. As ons die vorige twee verse saam met vers 32 lees, dan vind ons 'n duidelike bewys dat Jesus se woorde en die Woord van God, nl. die Bybel, met mekaar gelykgestel word.
Net so vind ons dat Jesus opsigself ook op vele plekke in die Bybel "Die Woord van God" genoem word. Ons lees dit in Joh. 1:1,14: "In
die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.... En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid." In Open. 19:13 verklaar die Bybel dat Jesus die verpersoonliking van God se Woord self is: "En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God." Ons leer Christus dus ken vanuit die Woord van God en só word ons geloof vasgelê. As Jesus "EEN" met die Bybel is en ons een met Hom, dan beteken dit dat ons ook een met die inhoud van die Bybel behoort te wees.
In Joh. 14:23 sê Jesus aan Sy dissipels: "As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak." In vers 21 verwys Jesus na Sy woord as Sy gebooie: "Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar." As ons nader aan Christus wil groei moet ons meer van die Bybel leer ken. Christene wat laks is om die Bybel beter te leer ken, versuim die geleentheid om Christus beter te leer ken en dit gee aanleiding tot 'n gebrekkige geloofslewe. Daarom sê Jesus in 1 Joh. 2:3-5 : "En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom, en Sy gebooie nie bewaar nie, is 'n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword...." Wanneer ons God se Woord in ons hart bewaar en dít doen wat Hy ons leer, dan word ons geloof in God opgebou en gevestig. Die Apostel Johannes sê dat elke mens wat nie God se Woord in sy hart bewaar nie, 'n leeunaar is en het nie geloof in God nie.
Wanneer 'n persoon luister na God se Woord, vind daar 'n proses in die sielsdimensie (denke) plaas wat toename in geloof stimuleer. Dit verduidelik die konsep van kleingelowigheid. Hoe meer 'n persoon blootgestel word om na God se Woord te luister, hoe sterker word die persoon se geloof in sy hart vasgelê. Indien 'n persoon versuim om tyd met God EN tyd in Sy Woord te spandeer, sal die geloof wat ontstaan het by die aanvanklike hoor van die Woord stagneer en kan dit selfs kwyn. Daar sal dus altyd 'n verbintenis wees tussen geloof en God se die Woord. Bybelse geloof is spesifiek en gebasseer op wat God vir die mens in Sy Woord gesê het.
Koning Dawid het hierdie beginsel verstaan. In 1Kron. 17:23 versoek hy opsommend die volgende van die Here: "Laat dit met my gaan volgens u Woord." Maria hoor God se woord wat deur die engel gespreek word, geloof ontstaan in haar hart - sy aanvaar dit en vra God om dit wat Hy gespreek het t.o.v. haar lewe te verwesentlik.
Dit is waarom Heb. 11:6 verklaar: "En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek." Petrus maak dit baie duidelik in 1Pet. 1:23, dat God se Woord die onverganklike saad van God is:: " Want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly." Op hierdie wyse vind geloof 'n weg tot ons harte deur die gesproke en geskrewe Woord van God. Geloof is egter nie net die vereiste vir Goddelike geregtigheid in die Ou Testament nie, maar is ook die vereiste om gered te word in die Nuwe Testament.
In Hand. 16:9-40 vind ons die verhaal van die tronkbewaarder van Filippi. Terwyl Paulus en Silas gevangenisse was ten gevolge van. die
evangelie van Jesus Christus, het hulle om middernag lofliedere tot eer van die Here gesing. Vers 25 sê dat almal in die tronk geluister het hoe Paulus en Silas sing en skielik het daar 'n aardbewing gekom en die gevangenisse se boeie het afgeval en die tronkdeure het oopgegaan. Hierop reageer die tronkbewaarder en uit vrees vir die owerhede wou hy sy eie lewe neem, maar Paulus verhinder hom en vertel hom van Jesus se verlossingskrag. Hierop roep hy uit: "Menere, wat moet ek doen om gered te word?" Dan volg Paulus met hierdie duidelike antwoord: "Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin".
In Hand. 26:18 vind ons God se plan met Paulus se lewe: "Om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van Satan tot God, sodat hulle DEUR DIE GELOOF in My vergifnis van sondes en 'n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang." Geloof vorm die basis tot die vergifnis van ons sondes, sodat ons 'n hemelse erfdeel kan ontvang. Paulus spel dit baie duidelik uit in Rom. 1:17: "Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos ge-skrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe".
Heb. 10:38 verklaar: "Maar die regverdige sal uit die geloof lewe..." Geloof is die spulpunt waarom 'n kind van God se lewe draai! Die Engelse woord vir 'n testament is "a will" Die Ou- en Nuwe Testamente van Die Bybel is dus die uitdrukking van God se wil.
As ons sê dat ons geloof in God en Christus gebasseer is op die Bybel, het ons 'n verantwoordelikheid om te bewys dat die Bybel die absolute waarheid is en sonder twyfel God se Woord. Deur al die eeue het Satan baie mense beroof van die voorreg om te glo, omdat hy hulle mislei het met redenasies en gedagtes dat die Bybel en die Nuwe Testamentiese geskiedenis m.b.t. Jesus 'n mite en menslike versinsels is. Hy het selfs valse godsdienste en ideologië tot stand gebring om die mens van God se waarheid en verlossinsplan te weerhou.
In Joh. 10:34-36 verklaar Jesus dat God se Woord nooit "verbreek" (tot niet-gemaak) kan word nie. In hierdie gedeelte verwys Hy na Ps. 82:6 wat by implikasie beteken dat Jesus self erken dat God se Woord onherroeplik is. In Matt. 5:18 sê Jesus verder dat nie "een jota of een tittetjie" van die wet "ooit (sal) verbygaan", voordat die hemel en die aarde tot niet sal gaan nie.
As ons sê dat die Bybel die grondslag van ons geloof is, moet ons onomwonde kan bewys dat God se Woord die volmaakte waarheid is. Om dit te doen kan ons nie die Bybel opsigself as vertrekpunt gebruik nie omdat die ongelowige wêreld nie glo in die gesag van die Bybel nie. Aangesien hierdie studie opsigself baie omvattend is, gaan ons slegs na enkele voorbeelde kyk. Daar is ses algemene uitgangspunte om die outentisiteit van die Bybel te bewys, nl.:
Miljoene mense uit alle nasies deur die verloop van al die eeue lewer getuienis dat die aansprake en beloftes wat die Bybel maak t.o.v. die lewe, op 'n baie intieme en persoonlike vlak bevestig is. Voor die voet getuig dié mense wat 'n persoonlike ontmoeting met die God van die Bybel gehad het dat hulle ná hierdie ervaring die beloftes van God se liefde, Sy innerlike vrede en allesomvattende genade persoonlik beleef het. 'n Persoon wat op 'n persoonlike wyse 'n ontmoeting met God gehad het, se lewe word sienlik verander en almal naby aan die persoon sal dit sonder om te skroom bevestig.
Dit is egter so dat persoonlike ervaring nie as die sterkste argument gebruik kan word nie omdat mense in ander godsdienste ook aanspraak kan maak op een of ander geestelike ondervinding. Dit getuig egter nooit van 'n volmaakte liefdeservaring, of die belewenis van volkome innerlike vrede wat alle verstand te bowe gaan, of die gevoel van verligting wanneer die las van sonde gelig word deur die oorvloedige genade wat God se verlossingsplan in die hart van die mens bewerk nie. Die persoonlike getuienis van mense wie besluit het om die Bybel as hulle lewensriglyn te gebruik, kan nooit net blatant
geïgnoreer word nie.
Ons vind in die Bybel 'n duidelike en objektiewe begrip van die heelal en die ontstaan van lewe. Die Bybel verteenwoordig God wat skep! Hierdie benadering dra baie meer gewig as die benadering van die evolusie-leer dat alles uit NIKS ontstaan het nie. Die samestelling van die aarde tesame met die effek van die wêreldvloed word deur geologiese studies bewys. 'n Eenvoudige voorbeeld hiervan is die rotsformasies in woestynagtige plekke wat fosiele bevat van visse en ander seediere terwyl hierdie plekke honderde kilometers van die kuslyn af geleë is. Met minimale veranderinge bly die kuslyn jaar in en jaar uit dieselfde. Leer die Bybel ons nie dat God die grense van die see vasgestel het sodat dit nie sy grense oorsteek nie? (Spr. 8:29).
In Pred 1:10 sê Salomo: "Is daar iets waarvan die mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal daar in die ou tyd wat voor ons gewees het." In die wetenskap is daar 'n wet wat Termodinamika genoem word. Dit handel oor die "behoud van energie" *(https://af.m.wikipedia.org/ https://www.gty.org) en lewer bewys dat energie nie geskep of vernietig kan word nie, maar slegs getransformeer kan word. 'n Goeie voorbeeld hiervan is sonenergie wat omskep kan word in elektriese energie wat gestoor kan word in 'n battery of diensstasie wat weer vir 'n ander doel aangewend kan word. Die omskakeling van sonenergie na 'n ander vorm van elektriese energie mag vir ons nuwe tegnologie wees, maar die energie wat alles moontlik maak, bestaan van die skepping af. Ons sien dat grondstowwe in nuwe produkte omgeskep word, tog bestaan al die grondstowwe so lank as wat die aarde bestaan.
'n Ander bewys dat die Bybel waar is, vind ons in die wetenskap van die aarde se watersiklus (hidrologie). Dit was eers in die 1800's dat die wetenskap die aarde se watersiklus in detail verstaan en verklaar het. Tog sien ons dat die Bybel 'n breedvoerige en akkurate beskrywing hieroor in Job 36 gee. Dit is 'n algemene siening onder die meeste teoloë dat Job die oudste boek van die Bybel is. Job 1:1 verklaar dat Job in die land Us gewoon het. Us was die kleinseun van Sem, een van die drie seuns van Noag. Ons lees ook in Gen. 22:21 dat Abraham se broer, Nahor, se eersgebore seun se naam óók Us was. Na aanleiding van hierdie feite is die algemene siening dat die boek van Job die oudste boek van die Bybel is.
Kyk met watter insig word die aarde se watersiklus hier beskryf!: Job 36:26-28 "Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik. Want Hy trek waterdruppels (verdamping) af; hulle sif neer by sy mistige weer as reën (kondensasie) wat die wolke laat neerstroom (presipitasie) laat afdrup op baie mense." Die 'Amplified' vertaling beskryf die vers 27 as volg: "For He draws up the drops of water, which distil as rain from His vapor." Die aarde se watersiklus bestaan uit drie belangrike fasette, naamlik:
Ons lees ook dat Pred. 1:7 en Jes. 55:10 die konsep bespreek van reën en hoe die reën in sy opvangsgebied in riviere en strome versamel word wat op hulle beurt almal na die see terugvloei: "Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer...
Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter." Dit is baie duidelik dat God deur Job in die vroegste tye van die bestaan van die mens reeds die profetiese insig gegee het m.b.t. die hidrologie van die aarde.
Ook in die die Boek van Job vind ons 'n duidelike insig t.o.v. die aarde opsigself. Letterlik 2000 jaar voor Christus verklaar Job 26:6-7: "Naak lê die doderyk voor Hom, en die plek van vertering het geen bedekking nie — voor Hom wat die noorde uitspan oor die chaos, wat die aarde ophang oor 'n niks" In die geloofsboeke van die Griekse mitologie word bewerings gemaak dat die aarde gegrondves is op die rug van diere en in besonder dié van olifante. Een van die mites t.o.v hierdie siening was dat aardbewings plaasgevind het wanneer hierdie olifante hulself van tyd tot tyd skud. (*http://www.gty.org/library/articles/45trust; Can you trust the Bible? - https:www.jw.org/en/library/books/lesson03).
In Job 38:14 vergelyk Job die aarde met klei en 'n seël. In die Bybelse tyd was sagte klei gebruik om 'n handtekening uit te rol. Die klei was silindervormig gevorm en het 'n staaf deur die middel gehad wat dit moontlik gemaak het om die sagte klei op 'n harde stuk klei met die handtekening op uit te rol. Die implikasie hiervan lewer die bewys dat die aarde om 'n as roteer. Dit was eers in die vroeë jare van die 1500's dat Copernikus die idee bekend gemaak het dat die aarde rondom die son beweeg. Voor hom het die seevaarders geglo dat die aarde 'n plat skyf was en dat 'n mens van die aarde sal kan afval as hy net ver genoeg beweeg. In 732 vC beskryf die profeet Jesaja die aarde as 'n sirkel/kring/sfeer: "Hy sit bo die kring van die aarde, en die be-
woners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos 'n dun doek en sprei dit uit soos 'n tent om in te woon." (Jes. 40:22) Die King James vertaal dit as volg: "It is He that sitteth upon the circle of the earth." Die woord sirkel impliseer 'n sfeer en in die Nuwe Afrikaanse vertaling word die woord "kring" vertaal as "koepel" wat 'n ronde vorm impliseer.
In die 7de eeu het Kepler en Galileo geboorte gekenk aan moderne astronomie. Voor hulle het sterrekundiges geglo dat die hemelruim slegs uit 'n duisend sterre bestaan. Tog sien ons dat God vir Abraham in die boek van Genesis sê dat sy nageslag soos die sand van die see en die sterre van die hemel sal wees wat ontelbaar is (Jer. 33:22). By wyse van spreke sê ons “die son en maan 'kom op in die ooste' of 'sak in die Weste'”; ook só by wyse van spreke staan geskryf in die boek van Josua, dat God die son en die maan laat stilstaan het; wat by implikasie beteken dat God die aarde laat stilstaan het en dit daarom nie 'n plat statiese skyf is nie, maar 'n sfeer in beweging soos wat o.a ondersteun word deur C.I. Scofield se kommentaar oor Jes. 40:22: “'n Merkwaardige verwysing na die bolvormigheid van die aarde." As die aarde dan rond is en voortdurend beweeg, moet die aarde perfek geballanseer wees, anders sou die aarde gewaggel (wobble) het.
Die berge en die see en alles wat God op aarde geskep het moet dus in 'n perfekte belans teenoor mekaar staan om te verhoed dat die aarde nie buite balans sal wees nie. In geologie staan hierdie wetenskaplike beginsel bekend as Isostasie. In kort beteken dit dat die massa van die berglandskap, wat die swaartekrag sou kon vergroot, gekompenseer word deur die bergwortel, waarvan die ligter materiaal in die swaarder substratum van die mantel indring. Die gebrek aan massa by die oseane, as gevolg van die ligter waterbedekking, word op sy beurt
gekompenseer deurdat die swaar mantelgesteentes hier hoër opstoot as onder die kontinente. Ten spyte van die feit dat die aardkorsstrukture in samestelling en dikte verkil, bly die kors ten opsigte van die mantel in drywende ewewig of isostasie. *(https://af.m.wikipedia.org/wiki/Aardkors).
Lank voor die wetenskap hierdie ontdekkings gemaak het en aan dit 'n naam gegee het, verklaar die Bybel in Jes. 40:12: "Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met 'n span die maat geneem, en in 'n drieling (duim,wysvinger en middelvinger) die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met 'n weegtoestel en die heuwels met 'n weegskaal?" Die filosoof, Herbert Spencer, verwys gereeld in sy filosofiese verklarings na vyf belangrike kategorië t.o.v. die wetenskap, nl.: "tyd, energie, beweging, ruimte en materie". Wat interessant is, is die feit dat ons al vyf hierdie faktore in die eerste vers van die Bybel vind. In Gen 1:1 staan geskryf: "In die begin (tyd) het God (energie) die hemel (ruimte) en die aarde (materie) gemaak (beweging)." Tog, ten spite van sy filosofie, was Herbert Spencer 'n onderskrywer van Darwin se evolusie-teorie.
Daar is geen manier waarop verduidelk kan word hoe die Bybel daarin slaag om toekomsgebeure so akkuraat te voorspel sonder die toedoen van 'n lewende God nie. In die OU TESTAMENT vind ons baie profetiese uitinge wat almal tot op die letter vervul is en deur geskiedenis bevestig kan word. In Jes. 44:24 tot en met Jes. 45:7 voorspel Jesaja dat daar ongeveer 150 jaar later 'n koning met die
naam van Kores uit Persië sal kom wat die magtige wêreldregering van Babilon sal verslaan en die Jode vanuit hulle ballingskap sal red. Geen mens kan só 'n voorspelling maak en daarby ook die naam van die koning asook die naam van die sy koninkryk 150 jaar voor dit gebeur het bekend maak nie.
Kom ons kyk na hierdie profesie - "So sê die Here, jou Verlosser, en Hy wat jou geformeer het van die moederskoot af: Ek is die HERE wat alles volbring, wat die hemel uitspan, Ek alleen, en wat die aarde uitsprei—wie was met My? — wat die tekens van die leuenprofete vernietig en die waarsêers tot dwase maak; wat die wyse agteruit laat wyk en hulle kennis domheid maak; wat die woord van sy kneg vervul en die voorsegging van sy boodskappers volbring; wat van Jerusalem sê: Dit moet bewoon word; en van die stede van Juda: Hulle moet herbou word, en Ek sal sy puinhope oprig; wat vir die diepte sê: Verdroog! en jou riviere sal Ek laat verdroog; wat van KORES sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word. So sê die HERE aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie: Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan. En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die HERE is wat jou by jou naam roep, die God van Israel; ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep; Ek het jou 'n erenaam gegee, hoewel jy My nie geken het nie. Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af
dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen".
Die geskiedenis leer ons dat hierdie profesieë letterlik so vervul was. In Daniël 5 lees ons hoe Nebukadnésar se wêreldryk in die dae van sy troonopvolger tot 'n einde kom. Vir 70 jaar was Israel in ballingskap nadat Jeremia dit vooraf in die fynste besonderhede geprofeteer het en ook verklaar het dat God Israel na 70 jaar weer uit Babel sal laat terugkeer na hulle verwoeste land, om dit weer op te bou en die tempel te herstel. Terwyl Bélsasar, die seun van Nebukadnésar, 'n groot partytjie gehou het vir al sy maghebbers blyk dit dat hulle die sekuriteit agterweë gelaat het. Terwyl die drank gevloei het en hierdie jong koning hom vergryp het aan God se tempel-voorewerpe, het Kores van Pesië die rivier wat die stad beveilig het, drooggelê en die stadspoorte oop gevind. Daardie selfde nag, skryf God met die hand van 'n mens 'n boodskap aan Bélsasar om te sê dat God sy koningskap geweeg het en hy te lig bevind was omdat hy hom nie soos sy vader tot God bekeer het nie.
In sy verwarring oor die skrif teen die muur, laat hulle Daniël haal om vir hom die uitlegging van die boodskap teen die muur te gee. Weereens, voordat Kores die inval geloods het, profeteer Daniël dat Babilon se heerskappy verby is. In Daniël 5:28 sê Daniël aan Bélsasar: "u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee." Hierdie is opsigself 'n vervulling van 'n droom van Nebukadnesar wat Daniël ongeveer 70 jaar voor hierdie gebeure die uitlegging van gegee het. In Daniël se uitleg van Nebukadnésar se droom het hy die volle verloop van alle wêreld-heerskappye tot aan die voleinding van die wêreld voorspel. In vers 30 staan geskryf: "In dieselfde nag is Bélsasar, die koning van die Chaldeërs gedood." Kores het die stad
van Babel deur die droë rivierbeddings binnegeval, die poorte oop gevind en die eerste wêreldryk verower om sodoende die tweede wêreldryk aan bewind te bring.
In Jer. 50:39 en 51:37 profeteer Jeremia dat al wat van Babilon sal oorbly is 'n hoop klippe en dat dit nooit weer daarna deur mense bewoon sal word nie. Ten spyte van die stad se strategiese ligging, is hierdie profesie presies so vervul en tot vandag 'n hoop klippe en 'n plek wat nie weer bewoon was nie. Vers 39: "Daarom sal daar boskatte saam met wildehonde bly; ook sal daar volstruise in bly; 'n mens sal daar in ewigheid nie meer bly nie, en dit sal nie bewoon word van geslag tot geslag nie." Jer. 51:37 "Babel sal kliphope word, 'n lêplek van jakkalse, 'n voorwerp van verbasing en bespotting, sonder inwoner." Hierdie feite is algemeen bekend in al die bronne wat handel oor die val van Babilon.
In Eseg. 26 vind ons 'n profetiese woord t.o.v Tirus. Verse 2-12 maak die vogende bekend rakende die feite van Tirus se val: "Mensekind, omdat Tirus oor Jerusalem geroep het: Ha, ha! die poort van die volke is gebreek, dit is na my toe gedraai; ék sal vol word, dit is verwoes— daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Tirus! en Ek laat baie nasies teen jou optrek soos die see sy golwe laat optrek. Húlle sal die mure van Tirus verwoes en sy torings afbreek; ja, Ek sal sy puin van hom af wegvee en hom 'n kaal rots maak. Hy sal binne-in die see ‘n droogmaakplek van nette wees; want Ek het dit gesê, spreek die Here HERE; en hy sal 'n buit vir die nasies wees. En sy dogters wat op die land is, sal met die swaard gedood word; en hulle sal weet dat Ek die HERE is. Want so sê die Here HERE: Kyk, Ek laat Nebukadrésar, die
koning van Babel, die koning van die konings, van die noorde af teen Tirus kom, met perde en strydwaens en ruiters en 'n menigte en baie mense. Hy sal jou dogters op die land met die swaard doodmaak en forte teen jou opstel en 'n wal teen jou opwerp en die skilddak teen jou oprig. En hy sal die stoot van sy stormram teen jou mure rig en jou torings met sy breekysters afbreek. Vanweë die menigte van sy perde sal hulle stofwolk jou oordek; jou mure sal bewe vanweë die gedruis van ruiters en wiele en strydwaens as hy deur jou poorte intrek, soos 'n mens indring in 'n stad wat oopgebreek is. Hy sal met die hoewe van sy perde al jou strate vertrap; jou mense sal hy met die swaard doodmaak, en jou trotse klippilare sal op die grond val. En hulle sal jou rykdom buitmaak en jou koopware roof en jou mure afbreek en jou kosbare huise omgooi; en hulle sal jou klippe en jou houte en jou puin in die water slinger." Die engelse Bybel (NLT) vertaal die laasgenoemde sin as volg: "They will destroy your lovely homes and dump your stones and timbers and even your dust into the sea".
In die "Tyre-World History Encyclopedia -Josua J. Mark", word Tirus se geskiedenis breedvoerig beskryf. Die volgende is 'n opsommimg daarvan: "Tirus is een van die oudste stede ter wêreld en dateer tot 4000 jaar gelede. Hierdie stad was die mees invloedrykste stad in Fenisië in die Bybelse tyd. Koning Dawid asook koning Salomo het die hout vir die bou van die Tempel vanuit hierdie stad gekry en het goeie handelsbetrekkinge gehad. Maar omdat die leiers van hierdie stad jare na Dawid en Salomo hulle verbly het in die val van Jerusalem toe Nebukadnéser die stad verwoes en die Tempel afgebreek het, het God 'n uitspraak oor die stad gemaak.
Gedurende die jare 605/4 tot 562 vC het Nebukadnéser Tirus vir 13 jaar lank beleër, drie jaar na Eségiël se profesie. Die stad het uit twee dele bestaan, nl. die kusgedeelte op die vasteland en 'n eiland so ongeveer 400m van die kus af. Baie van die mense van die kusgebied het per boot gevlug na die eiland vir veiligheid terwyl Nebukadnéser die stad op die vasteland verslaan het. Maar omdat hy nie 'n vloot gehad het nie, kon hy nie die eiland verwoes nie. Gedurende die tydperk van die Mede en Perse het hulle ook die ou stad beleër, maar nie die eiland verwoes nie weens ekonomiese en logistieke redes. Let op dat die profesie van Eségiël verwys na nasies wat teen Tirus sal “optrek”. 250 jaar na Nebukadnéser se beleg deur die Mede en Perse, het Alexander die Grote Tirus gedwing om oor te gee en van hulle voorraad geëis vir sy manskappe. Tirus het egter geweier wat Alexander die Grote so ontstel het dat hy letterlik die grond en alles wat hy van die verwoeste ou stad in die hande kon kry, gebruik het om die see tussen die kus- en die eiland-stad droog te lê om sodoende 'n brug/loopvlak/oorgang na die eiland te bou. Hy het hierna al sy swaar artillerie-masjiene oorgesleep en die mure van die eiland-stad verwoes.
Hierdie oorgang het oor die jare so opgeslik dat die eiland vandag nie meer as 'n eiland beskou word nie omdat die "RAMP" wat Alexander die Grote gebou het die eiland permanent met die vasteland verbind het. Dr. Mc Athur Jr. skryf: "As jy vandag na die terrein van Tirus reis, sal jy vissers daar sien wat hul nette droogmaak. Die stad is nooit herbou nie. Peter Stoner het gesê dat die waarskynlikheid dat al die besonderhede van daardie profesie toevallig gebeur een uit 75 miljoen is".
Die laaste profesie waarna ons wil kyk is die profesie oor die stad Ni-
nevé in Nah. 1:8 en 2:6: "Maar met 'n oorstromende vloed maak Hy 'n einde aan die plek van die stad... Die poorte van die riviere word oopgemaak, en die paleis smelt weg." Sewe eeue voor Christus was hierdie stad op die kruin van sukses. Die mure om hierdie stad het poorte gehad wat in die aangrensende riviere uitgeloop het om dit te beskerm teen invalle. Daar het 'n groot storm gekom en die rivier het so oorstroom dat dit 'n groot deel van die stadsmuur wewoes het en toegang verleen het aan die Meders en Babeloniërs.
In die Ou Testament is daar meer as 300 profesieë wat op Jesus betrekking het waarvan almal letterlik in Jesus se lewe vervul is. In Gen. 3:15 sê God aan Eva dat daar deur 'n geboorte 'n Verlosser-Seun sal kom wat die sondeval van die mens sal herstel en oor Satan en die dood sal triomfeer, alhoewel Satan Hom in die 'hakskeen sal byt'. Hierdie profesie is letterlik op Golgota vervul deur Jesus se kruisiging, Sy sterfte en Sy opstanding.
In Gen. 49:8-11 profeteer Jakob oor sy seun Juda: "Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. Juda is 'n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos 'n leeu en soos 'n leeuin; wie sal hom opjaag? Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees. Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; Hy was sy kleed in
wyn en sy gewaad in druiwebloed." In Sag. 9:9 word hierdie profesie herhaal: "Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en 'n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op 'n esel—op 'n jong esel, die vul van 'n eselin".
Hierdie profesieë word duisende jare na Genesis letterlik vervul in Jesus se lewe. In Matt. 21:2-3 gee Jesus opdrag dat hulle na die stad reg voor hulle moet gaan en daar sal hulle 'n vul van 'n esel vind wat vasgemaak is. Hulle moet dit losmaak en na Hom bring en as iemand hulle teëstaan, moet hulle sê: "die Here het dit nodig." So vind hulle die esel en sien ons hoe die volk aan Jesus hulde bring as die Koning. Kort hierna word Hy gekruisig en was Hy Sy kleed in die bloed van die wynstok na die instelling van die nagmaal. So is daar oor die 300 profesieë wat op Jesus betrekking het en letterlik deur Hom vervul is.
Uit hierdie 300 profesieë het Peter Stoner, 'n wetenskaplike op die gebied van wiskundige waarskynlikhede, navorsing gedoen. Uit die 300 profesieë het hy slegs 8 van die mees algemeenste profesieë geneem en sy studie daarop gefokus. Hy wou vasstel wat die kans sou wees dat 8 profesieë wat oor die lang tydperk van die Bybel geprofeteer is deur verskillende mense op verskillende tye in een mens se lewe kan realiseer. Die uitkoms van hierdie statistiese ontleding is verstommend! Hy het bewys dat die kans vir dit om te realiseer slegs een uit 1017 is.
Om die implikasie van hierdie syfer te verstaan het hy die volgende verduideliking gegee: "(As) Ons 1017 silwer dollars neem en dit uitlê op die oppervlak van Texas, sal dit die totale staat bedek met 'n diepte
van twee voet. Merk nou een van hierdie silwer dollars en roer die hele massa deeglik... Blinddoek 'n man en sê vir hom hy moet een silwer dollar optel.... Watter kans sou hy hê om die regte een te kry? Net dieselfde kans wat die profete sou gehad het om hierdie agt profesieë te skryf en dit in een mens te laat waar word." *(Unleashing Gods Truth, One Verse at a Time; Grace to You).
Deur die verloop van al die eeue was daar altyd invloedryke mense wat probeer verhoed het dat die Bybel vertaal en versprei moet word. Hulle het mense wat die Bybel in die omgangstaal vertaal het op brandstapels verbrand en die wat dit gelees het tot die dood toe vervolg. Geen ander boek in die geskiedenis van die wêreld het meer aanslae verduur as die Bybel nie; tog, ten spyte van hierdie pogings, is die Bybelboek die enigste boek wat bykans in al die wêreltale vertaal is en wat die meeste versprei is oor die oppervlakte van die aarde. Miljarde kopieë is in sowat 2700 verskillende tale vertaal en reg oor die wêreld versprei deur mense wat selfs bereid was om hulle lewe vir hierdie taak te gee.
Die Bybel is volmaak, dit is betroubaar, dit kan nie weerlê word nie, dit is suiwer, dit is skoon en heilig, dit is waarheid, dit is sonder foute, sy boodskap is volledig, dit het gesag en dit is genoegsaam vir die mens op alle terreine van die lewe en honderde-duisende mense oor al die eeue heen het en kan getuig dat die Bybel die enigste Boek is wat die mens volkome vry kan maak. Statistiek toon dat daar in die V.S.A. vanaf 1950 gemiddeld 20 miljoen Bybels elke jaar; 1,66 miljoen elke maand; 384,615 weekliks en 54,945 Bybels per dag verkoop word.
Die Gideons verkoop en versprei ongeveer 100 Bybels elke minuut of 59,5 miljoen eksemplare in 2016 alleen. Uitgewer, Thomas Neson, het in die jaar 2005 alleen, 473 miljoen dollar se Bybels verkoop. Watter ander boek in die wêreld kan en sal ooit hiermee kan kompeteer?
(*32 Bible Sales Statistics, February 2, 2022)
Die grootste getuienis t.o.v. die geloofwaardigheid van die Bybel is die lewe en persoon Jesus Homself. Ons het reeds gesien dat Jesus al die profesieë m.b.t. die koms van die Messias letterlik vervul het. Die grootste verweer wat die skeptici en die ongelowige wêreld het, is om te verklaar dat Jesus nooit uit die dood opgestaan het nie. Hulle kan nie ontken dat Jesus wel bestaan het nie, aangesien die geskiedkundige feite oorweldigend vanself spreek. Selfs die Koran wat deur Islam beskou word as hulle Heilige boek, beskryf die lewe van Christus en bevestig selfs die opstanding van Jesus. Daar word selfs melding gemaak van Jesus se moeder, nl. Maria. Dit bring ons by die skeptici se vraag: Het Jesus werklik uit die dood opgestaan?
Die Apostel Petrus vermaan ons in sy eerste sendbrief, die derde hoofstuk, vers 15, dat ons "...altyd bereid moet wees om verantwoording te doen aan elkeen wat van ons rekenskap eis..." Dit is dus baie belangrik dat ons toegerus moet wees om die valse leringe van die ongelowige wêreld bloot te lê. Sewe-honderd jaar voor
Christus profeteer Jesaja dat Jesus vir ons sondes gaan ly en dat Hy Sy lewe vir ons gaan aflê (Jes. 53:5-12).
In Mark. 10:32-34 bevestig Jesus hierdie profesie van Jesaja: "....En Hy het weer die twaalf by Hom geneem en aan hulle begin vertel die dinge wat met Hom sou gebeur. Kyk, sê Hy, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en die skrifgeleerdes, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene; en hulle sal Hom bespot en Hom gésel en op Hom spuug en Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan".
Alles wat Jesus gedoen en geleer het, het gekulmineer tot Jesus se kruisiging, Sy dood en Sy opstanding uit die dood. As die mens kan bewys dat dit nie plaasgevind het nie, is die totale integriteit van die Bybel onder verdenking. Selfs hierin het God voorsiening gemaak.
Die Britse joernalis, Frank Morison, het geglo dat Jesus se opstanding 'n mite is. Om sy siening te bewys het hy besluit om 'n navorsingsprojek hieroor te doen en publiseer toe 'n boek onder die titel: "Did Jesus rise from the dead?" om sodoende eens en vir altyd 'n einde aan die debat te maak. In Morison se navorsing het hy gefokus op vyf moontlike waarskynlikhede, nl.:
Morison se eerste poging was om te bewys dat Jesus nog gelewe het toe Sy volgelinge Hom van die kruis afgehaal het. Hieruit het hy geleer dat vir 'n tydperk van 1800 jaar, Jesus se dood beskou was as 'n algemene publieke feit en daar geen twyfel by die publiek bestaan het dat dit feitlik korrek is nie. Verder het hy gevind dat skeptici eers ongeveer 200 jaar gelede beweer het, dat Jesus nie dood was tydens Sy kruisiging nie, maar slegs Sy bewussyn verloor het en bygekom het a.g.v. die koel, klam lug binne die uitgekapte rotsgraf. Hierdie teorie het wortel geskied en staan bekend as die "Swoon Teorie".
Morison het hierdie teorie ondersoek. Hy het beide Romeinse en Joodse kontemporêre geskiedenis ondersoek en die volgende feite gevind:
genoegsame bewys vir Pilatus om Jesus se dood te sertifiseer.
In Matt. 28:11-15 vind ons weereens die ongeloof en onderduimsheid van die owerpriesters: "En terwyl hulle op weg was, kom daar sommige van die wag in die stad en vertel die owerpriesters alles wat gebeur het. En nadat hulle saam met die ouderlinge vergader en raad gehou het, het hulle die soldate baie geld gegee en gesê: Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was. En as dit by die goewerneur gehoor word, sal ons hom tevrede stel en maak dat julle sonder sorg is. Hulle het toe die geld geneem en gedoen soos hulle geleer was. En hierdie verhaal is versprei onder die Jode, tot vandag toe." Met die eerste scenario uit die weg geruim, het Morison geglo dat hierdie 'n moontlike opsie kan wees. Hy het hierdie moontlikheid begin ondersoek waarna hy die volgende verklaring maak: "Dit kan aanneemlik wees as die graf in 'n obskure area was waar niemand hulle sien nie." Maar die feit van die saak is dat die graf aan Josef van Arimathéa behoort het, 'n bekende lid van die Sanhedren.
Morison het besef dat die graf van hierdie welbekende ryk man nie verwar kan word met iemand anders se graf nie en definitief in 'n welbekende omgewing geleë was waar dit maklik uitgeken kan word. Hy skryf: "Enige gedagtes van Jesus wat verlore gaan in die begraafplaas, sal van die hand gewys moet word." Die
omgewing was nie net bekend by die mense nie, maar die Romeine het wagte aangestel om die graf 24 uur per dag te bewaak. Morison wys daarop dat hierdie Romeinse soldate goed opgeleide soldate was en dat daar normaalweg, vir 'n taak soos hierdie, tussen 4 en 16 soldate aangestel was.
Die voormalige ateïs Josh McDowell het meer as 700 ure gespandeer om navorsing te doen oor Jesus se opstanding. Hy skryf die volgende: “Die Romeinse Wag-eenheid was verbind tot dissipline en hulle het mislukking op Enige wyse gevrees." (* "Did Jesus Rise from the Dead?" https//y-jesus.com/lp/6-jesus-rise-dead-artikle-ttn-n/5/) Dit is dus hoogs onwaarskynlik dat iemand Jesus se liggaam uit die graf kon verwyder het sonder dat iemand dit gesien of gehoor het, aangesien die ingang goed verseël was deur 'n "groot steen" (Matt 27:60) wat krag en inspanning sou verg om dit te skuif. Dit is ook onwaarskynlik dat Jesus se volgelinge 'n klip van hierdie massa geruisloos en ongesiens sou kon skuif. Die Griekse woord vir "groot" is: "Megas" waarvan die woord "mega' afgelei is en beteken letterlik swaar in massa en groot in dimensie.
Verder sien ons in Matt. 27:61 dat Maria Magdalena en die ander Maria "reg voor die graf gesit het" toe Josef die graf toemaak deur 'n groot steen voor die opening te rol. In vers 64 vra die Fariseërs en die owerpriesters aan Pilatus om die graf "te verseker" tot die derde dag toe omdat hulle bang was dat die dissipels die liggaam van Jesus sou steel en dan die storie van Sy opstanding sal versprei. Hulle rig hierdie versoek tot Pilatus omdat hulle persoonlik gehoor het dat Jesus gesê het dat hy op die derde dag uit die dode gaan opstaan. Met hierdie voorsorg in
gedagte gee Pilatus "'n wag" wat deur 'Strongs' as volg verklaar word: "Wag van Romeinse SOLDATE". In Matt. 27:62-66 word hierdie gebeure duidelik beskryf: "Die volgende dag—dit is die dag ná die voorbereiding—kom die owerpriesters en die Fariseërs by Pilatus saam en sê: My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan ek op. Gee dan bevel dat die graf verseker word tot die derde dag toe, dat sy dissipels nie miskien in die nag kom en Hom steel nie, en vir die volk sê: Hy het opgestaan uit die dode. En die laaste dwaling sal erger wees as die eerste. Daarop sê Pilatus vir hulle: Julle sal 'n wag kry; gaan verseker dit soos julle dit verstaan. En hulle het gegaan en die graf verseker deur die steen te verseël in teenwoordigheid van die wag." Die moontlikheid dat Jesus se dissipels ongesiens verby hierdie wagte, wat ingelig was oor die dringendheid van hulle taak, kon gekom het is onmoontlik.
Tog, toe die twee Maria's op die derde oggend na die graf toe gaan, was die steen weggerol en die graf oop. In Matt. 28:2-4 lees ons dat, tydens 'n aardskudding, 'n engel van God gekom het en die steen weggerol het. Vers 4 verklaar dat die wagte so bevrees was dat hulle soos "dooies" geword het.
Terwyl die vroue terug hardloop om die nuus aan die dissipels te breek, sê vers 11 dat "SOMMIGE" van die wagte die stad ingegaan het om die nuus aan die owerpriesters mee te deel. Dit is voor die hand liggend dat die res van die soldate by die leë graf bly waak het. Hierop het die owerpriesters en Fariseërs die wagte omgekoop om stil te bly. Hulle moes sê dat hulle almal geslaap het terwyl Sy dissipels Sy liggaam kom steel het. Verder
het die owerpriesters ook onderneem om die saak van die wagte voor Pilatus uit te sorteer.
In die lig van die grootheid van al hierdie gebeure en die feit dat daar duisende mense teen Jesus was tydens Sy kruisiging en dat daar uit almal nie een mens, Fariseër of owerpriester was wat na vore gekom het as 'n ooggetuie om te verklaar het dat hulle gesien het dat iemand Jesus se liggaam gesteel het nie, is genoeg bewyse teen hierdie leuen. Verder het niemand ooit aanspraak daarop gemaak dat die liggaam van Jesus iewers gevind is nie. Morison skryf: "The stilte van die geskiedenis is oorverdowend as dit kom by die getuienis TEEN die opstanding".
Met geen bewyse van Jesus se liggaam en met 'n welbekende graf wat leeg is, het Morison besef dat die teorie dat Jesus se liggaam gesteel is, nie bewys kan word deur enige hof nie.
Morison het gewonder of die dissipels nie weens hulle diep emosionele toestand moontlik gehallusineer het en op so 'n wyse moontlike 'n beeld gesien het van Jesus wat uit die dood uit opstaan. Hierdie teorie is vinnig weerlê toe hy die Sielkundige, Gary Collins, hieroor genader het. Collins was die voormalige president van die "American Association of Christian Counselors". Hy het egter verduidelik dat hallusinasies 'n individuele belewenis is, wat by nature slegs deur 'n individu ervaar kan word en nie in groepsverband nie. Dit beteken dat slegs een persoon 'n beeld weens hallusinering sal ervaar en nie deur 'n
groep mense ervaar kan word nie.
Die sielkundige, T.J. Thorburn, sê: “Dit is absoluut ondenkbaar dat vyfhonderd persone met gemiddelde gesonde verstand allerhande sinvolle indrukke, visuele ouditiewe en dat al hierdie ervarings geheel en al op hallusinering moet berus".
(*<https//y-jesus.com/lp/6/-jesus-rise-dead-article-ttn-n/ end notes/>)
Van die opstandings-kritici beskou Jesus se opstanding slegs as 'n legende. Hulle beweer dat die "storie" van Jesus se opstanding by twee of drie mense ontstaan het wie die leuen begin versprei het omdat hulle glo dat hulle Jesus na die kruisiging lewend gesien het. Hierdie “storie” van hulle het oor tyd versprei en posgevat by baie mense wat dit as die waarheid beskou.
Y-Jesus.com wys daarop dat daar drie probleme m.b.t. hierdie teorie is:
as waarheid aanvaar, wat heel waarskynlik ooggetuies was van die kruisiging- en opstandingsgebeure (Hand. 2:41). Binne 'n kort bestek van tyd het hierdie getalle gegroei van 3000 siele na 5000 manne sonder vroue en kinders (Hand. 4:4). In vers 32 van Hand. 4 verklaar die Bybel dat die "...menigte van die wat gelowig geword, was een van hart en siel..." Hoofstuk 5 vers 14 sê dat daar "...meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg is, menigtes van manne sowel as vroue." Hieruit is dit duidelik dat die boodskap van Jesus se opstanding duisende mense binne 'n kort periode bereik het.
So het die feite vanself gespreek en kon Morison niks vind om sy siening dat die opstanding van Jesus 'n mite is, bewys nie.
Daar was nog net een area wat hy kon ondersoek!
Die onbetroubaarheid van die argumente in vergelyking met die feite het die meeste van Morison se argumente verkeerd bewys. Morison het hom nou gewend om na feite te soek wat die boodskap van die opstanding kan bevestig. Ooggetuies het bevestig dat Jesus op verkillende geleenthede fisies aan Sy volgelinge en op verskillende tye verspreid oor die bestek van 40 dae na die opstanding verskyn het. Morison het gewonder waarom die samesweerders vroue die sentrum van hulle komplot sou maak, terwyl vroue in die Bybelse tyd baie min regte gehad het. Hierdie samesweerders sou veel eerder die manlike geslag die fokus in die verhaal gemaak het. Tog verklaar die Bybel dat Jesus heel eerste aan twee vroue verskyn het en daarna aan die Apostels.
Die tweede onweerlegbare feit is dat Jesus Homself lewend vertoon het aan meer as 500 mense ge lyktydig waarvan Jakobus, Sy ongelowige bloed-broer, een was en hy daarna tot geloof in Jesus gekom het. In Hand. 5:32 sê Petrus en die ander Apostels dat hulle “...getuies van hierdie dinge...” is. In Hand. 10:39-41 spreek Petrus en 'n paar ander gelowiges 'n groep mense toe in die huis van Corneluis, die Romeinse offisier: "En ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die Joodse land en in Jerusalem. En hulle het Hom omgebring deur Hom aan 'n kruishout op te hang. Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy
uit die dode opgestaan het".
Weens hierdie getuienis, het Morison besef dat dit onmoonlik was dat so baie mense kon volhou met die opstandingsverhaal oor die bestek van tyd dat hy besef het dat die enigste gevolgtrekking wat hy kon maak, is die feit dat Jesus wel uit die dode opgestaan het. Hierna het Morison die motiewe van Jesus se volgelinge begin ondersoek om vas te stel wat dit was wat duisende mense aangespoor het om te volhard in hulle geloof ten spyte van die ernstige en wrede vervolging wat hulle in die gesig gestaar het.
Hy het gewonder hoe die elf eens lafhartige manne so gemotiveerd kon wees om hulle lewe uiteindelik deur vervolging vir Jesus te verloor. Morison het tot inkeer gekom en besef dat dit die waarheid van die Opstanding uit die dode is wat alle vrees in hulle harte oorweldig het en hulle liefde vir dié God wat Sy lewe eerste vir hulle afgelê het. Die feite m.b.t. Jesus se opstanding oortuig Morison dat dit die faktor in die Apostels se lewe was wat hulle aangespoor het om met volle oorgawe en ywer alles op die altaar te plaas, al sou dit beteken dat hulle ook hulle lewe moes aflê.
Die boodskap van Jesus het so 'n impak op die wêreld gemaak, dat dit die totale gang van die wêreld verander het. Ons weet dit omdat:
Morison was so aangeraak deur sy nuwe ontdekking dat hy Sy boek se titel verander het van: "Did Jesus Rise from the Dead" na "Who Moved the Stone?"